Susa* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Tel van die koninklike stad (links) en die Akropolis (regs), gesien vanaf die Apadana-heuwel in Susa. | |
Ligging van Susa in Iran | |
Koördinate: 32°11′26″N 48°15′28″O / 32.19056°N 48.25778°O | |
Lande | Iran |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | i, ii, iii, iv |
Verwysings | 1455 |
Streek† | Asië |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 2015 (39ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Susa (Persies: شوش, Schūsch; Hebreeus: שושן, Schūschān; Oud-Grieks: Σοῦσα, [ˈsuːsa]; Latyn: Susa; Siries: ܫܘܫ, Šuš) was 'n antieke stad. Die oorblyfsels is in die suidweste van die hedendaagse Iran naby die Irakse grens in die Chuzestan-provinsie naby die moderne stad Sjoesj geleë. Susa is een van die oudste deurlopend bewoonde stede wêreldwyd. Die etimologie van die stadsnaam is onseker.
Vanaf die derde tot die eerste millennium v.C. het Susa met kort onderbrekinge as hoofstad van Elam gedien en het ook na die ineenstorting van dié ryk 'n belangrike stedelike sentrum gebly, onder meer tydens die Achaemenidiese Ryk, Seleukidiese Ryk, Partiese Ryk en Sassanidiese Ryk. Verskeie argeologiese opgrawings het ryk vondste opgelewer. Veral die Kodeks van Hammurabi, wat reeds in die oudheid as buit na Susa saamgeneem is, het sterk aandag getrek.
Volgens Bybelse oorlewering het die profeet Daniël tydens die Babiloniese ballingskap in Susa gebly. In die verhale van die Boek Ester neem die stad ook 'n belangrike rol in.